Namibia trip

Hier worden enkel ter inzage de complete reisverslagen gepost van forumleden.
Voor eventuele vragen, contacteer via PM of e-mail de auteur

Moderator: GVN

Gesloten
Die Malletjie
Berichten: 10
Lid geworden op: 01 nov 2006, 06:56
Locatie: Wellington Zuid Afrika

Namibia trip

Bericht door Die Malletjie »

Pardon dat ik dit in het Zuid Afrikaans geschreven heb maar om het nu te vertalen zal nogal een werkje zijn. Ik hoop dat jullie dit net zoals wij ons reis genoten hebben mogen genieten.

Ek radio na Steve wat so tweehonder meter terug onder ‘n boom lê. Ons moes hom in daai skaduwee in help toe hy vroeër geval het. “Steve hoe voel jy?” “Nee ek is OK”, is sy antwoord, maar my water is op, kan jy nie nog vir my bring nie? Ek vra vir my vrou Jos om maar hare vir hom te gee, sy kan maar myne deel. Later noem Jos dat die eerste gedagte was: “Nee, dis myne, hy het mos klaar syne gehad!”

Vroeg in Mei vanjaar het ons in Pofadder byeengekom aan die begin van ‘n toer van twee weke deur Namibië. Dit na maande se voorbereiding om al die moontlikhede oor en oor te oorweeg. Ons bedoeling was om die oostelike grens met Suid-Afrika te volg en dan suid van die Etosha Park deur te reis tot by die Epupawaterval. Daarvandaan weer af tot by Okangwati, af by die Vanzylspas, oor Rooi Drom na Orupembe. Die volgende skof moes oor Puros, Sesfontein, Palmwag na Khorixas. Daarna Uis, die Messumkrater tot by Henties- en Walvisbaai. Die laaste skof sou wees oor Solitair en Helmeringhausen, grens toe en ‘n laaste aand in Pofadder voor almal weer kantore toe trek.
Die ondersteuningsvoertuig wat aan ‘n ander motorfietsryer behoort het, sou bestuur word deur my dogter, Lee, en Sharon, Steve se vrou. Ongelukkig kon die eienaar nie meer saam reis nie en moes ons die rit sonder ‘n bystandsvoertuig aanpak. Alles moes toe op die fietse! Maande se detailbeplanning daarmee heen.

Die groep het bestaan uit Tony Chasen van Johannesburg op ‘n Honda Varadero en vier Kapenaars: Olaf Geartner, Rony Desodt met vrou Jos op die BMW R1200GSA’s en Steve Field op ‘n R1150GS Adventure.

Afbeelding
Olaf, Tony, Rony, Steve en Jos (achter die kamera) by Aroab.

Ons is by Onseepkans oor die Namibiese grens. Die sanderige spoor net buite Pofadder tot by die grenspos het sommer net daar die manne gewaarsku vir wat die volgende twee weke sou voorlê. Ariamsvlei was ons eerste bestemming en daarvandaan het ons Aroab, Koës, Goghas en Aranos toe beweeg. Ry ‘n motorfiets in ‘n oostelike rigting in die vroegoggend en ‘n man kyk reg in die opkomende son vas. Dis ongemaklik, ‘n sonbril alleen sal nie die probleem oplos nie en ‘n valhelm met piek is ‘n noodsaaklikheid. Die groep het voor die tyd besluit om nie die hoofweë te volg nie en soveel moontlik net D gravel of Off Road-paaie te gebruik. Die addisionele probleem is dan natuurlik stof! Ons het dit gedeeltelik opgelos deur voortdurend met tweerigtingradio’s in kontak te bly om so groot volgafstande te kan handhaaf. Die radio’s het ook die voordeel dat die voorste ryer die manne agter hom kan waarsku teen dinge wat voorlê. En in Namibië lê dinge voor! Die rooi Kalahari-sandpaaie het die neiging om bo-op die kruin uitgery te word en vir die niksvermoedende ridder op sy ysterperd kan daar ‘n paar “interessante” oomblikke voorlê.

Afbeelding
Steve en die R1150 GS Adventure by Etengwa.

Behalwe vir donkies in die pad is daar ook sowaar heelwat bokke en ander wild. Moet ook nie vergeet van die bakkies en lorries wat ‘n mens op die pad kry nie. Daar is geen manier dat iemand by ‘n groot lorrie kan verbysteek sonder hulp nie. Die stof is net te erg: ‘n ou wag maar vir ‘n geleentheid, vat maar ‘n kans en help dan maar die ander ouens deur. Die radio bly ‘n handige hulpmiddel.
Ons reis oor die Steenbokskeerkring na Gobabis, verby die Omatakodam tot by die B1. Nadat ons ongelukkig vir ‘n rukkie die teerpad moes volg, kry ons ‘n lieflike kampeerplek met yskoue bier. Hier word dan ook die eerste pap wiele gewaar. Tony en Steve het toe al die tyd gedink die eienaardige gedrag van hulle fiets is te wyte aan die fiets se allergie vir teer.

Afbeelding
Jos en Olaf na die dag se ry, Hobatere kampeerplek

Onthou tog om ‘n motorfiets se banddruk voor en agter af te bring tot 1.6 bar voor daar grondpad gery word. Die grondpaaie in Namibië lyk vir my partykeer beter as van ons teerpaaie hier, maar oral is daar sandkolle en dan het jy ‘n groot voetspoor nodig om bo-op die sand te ry. Hou die kleurskakerings in die padoppervlak dop, dit is gewoonlik ‘n aanduiding dat iets aan die kom is. Skakel in ‘n laer rat soos jy die sand inry, gee vet en leun terug! Onthou, die reël sê: staan op, kyk op en maak oop daai petrol! Die paaie is wel besaai met los klippe, maar hulle is gelukkig nie groot genoeg om enige skade aan die vellings te veroorsaak nie. Ons het ook almal vir die rit Knobblie-bande aangeskaf. Hulle het nie binnebande nodig nie en het ‘n mens dus nie die onnodige moeite om hulle af te haal as jy ‘n lek sou kry nie. Maak net seker dat jy al die toerusting om die lekkasies te lap, byderhand het. Sekere 12 volt pompe het bietjie teendruk nodig om te kan werk en dan gaan jy sekerlik nie weer aan die gang kom nie. Toets jou pomp vooraf!

Afbeelding
Jos en Rony tydens ‘n rustige oomblik naby Rhenosterkop

Die vroegoggendrit vanaf die B1 na die Vingerklipreservaat was ongelooflik. Ons moes gedurig koes vir bokke, koedoes en die Pumbas wat wou weet wat die motorfietse daar soek. Loop wakker en ry tog in die middel van die grondpad, dit gee jou kans om te reageer as daai bok besluit hy wil anderkant oor die draad.

Afbeelding
Olaf, Jos en Rony in die Marienfluss

Die akkommodasie wat ons in die eerste helfte van die toer gebruik het, was meestal huisies en chalets wat verhuur word. Van die Epupawaterval verderaan, het ons net gekampeer! Die blyplekke is billik geprys en ons het nooit meer as honderd Rand betaal vir ‘n dak oor ons kop of meer as sestig Rand vir kamppeerplekke met goeie geriewe nie. Ons het niks vooraf bespreek nie en, omdat die skoolvakansies verby was, het ons nooit gesukkel om slaapplek te kry nie.

Afbeelding
Petrollorrie kom eers more! Wurg laatste bietjie uit pompe!

By Khorixas aangekom, is daar geen petrol nie en die volgende dorp is Kamanjab en hier is moeilikheid! Die BMW’s is nog reg, maar die Honda se tenk sal dit nie haal nie. Die gemiddelde brandstofverbruik vir my BMW met bagasie en passasier was 5.8 liter per honderd kilometer. Dit het ons dus ‘n radius van om en by seshonderd kilometer gegee. Die Honda se tenk is maklik 10 liter kleiner.
Terwyl die manne nog staan en wonder wat ons nou gaan maak, het my vrou die eienaar oortuig om tog maar te probeer en vir ons elkeen 10 liter uit die verskillende pompe te probeer wurg. Na gieters, gesukkel en baie dankies is ons daar weg. Niemand het besef dis nie die laaste petrolprobleem nie!

Afbeelding
Steve in ‘n rivierbedding af en op!

Ons sleep by Opuwa verby tot by Okangwati se Good Road Bar waar ons die nodige bespreek oor ‘n koue ietsie voor ons na die Kunenerivier vertrek om die berugte Epupawaterval te sien. As die gesamentlike meer as vyfhonderd foto’s ‘n aanduiding is van hoe dié plek lyk, kan ‘n mens maar glo ons gaan weer terug soontoe! Die eerste helfte van ons reis is voltooi, die terugweg word aangepak en op Okangwati sê ons vir Tony tot siens. Sy petrol sal nie hou as hy saam met ons Marionfluss toe ry nie. Ons spreek af om mekaar weer in Sesfontein te ontmoet. Min het ons geweet!

Afbeelding
Okangwati se “Good Road Bar”. Iemand het sin vir humor: “good road”?

Al sê die GPS die pad tot by Vanzylspas is ‘n off road-spoor en dit is nie aan te beveel nie, is ons daar weg met groot moed. Die inligting wat ons gekry het by dié wat die rit al aangepak het met ‘n motorfiets (en daar is min van hulle!) is dat die aanloop tot by die Vanzylspas moeilik is, maar dat die pas self gery kan word. Sestig kilometer na Okangwati sê ons nog vir mekaar dat hier nou iets moet kom, want dit voel amper soos ‘n uitstappie in die agtertuin. Toe kry ons die haak-en-steekbosse, die vlieë en die eerste van die opdraandes waar ons maar moet afklim en help stoot.

Afbeelding
Steil opdraandes, los klippe, die bikes se moses, Otitjanda!

‘n Paar ure en tien kilometers later is ons op Otitjanda se kampeerplek: moeg maar tevrede, want ons is mos nou bo-op die pas. Môre ry ons nou maar net die pas af tot by Rooidrom en dan Sesfontein toe. Ons het maar min water en die dieselpomp het maande gelede al gaan staan: geen diesel, geen water. Spasie en gewig is maar ‘n probleem as ‘n mens reis met ‘n motorfiets: twintig liter water weeg ook twintig kilogram en dit is wat ek aan boord geneem het, en ook drie dae se kos. Ons pak af, vermy maar die skerpioene wat lig kom soek en ons raak salig aan die slaap, onwetend dat ons nagmerrie die volgende dag sou begin!

Afbeelding
‘n Zwaar belaaide 1200 Adventure af by Vanzylspas.

‘n BMW 1200 Adventure vol petrol, bagasie, noodtoerusting, sy bestuurder en sy pasassier saam weeg maklik ’n halwe ton en die Vanzylspas is nie daarvoor gebou nie. Die fietse het die hoogste grondspeling wat die mark aanbied, maar die pas het ook die hoogste trappe, rotes, klippe en rante waarmee die natuur jou kan konfronteer. Ek het êrens oor Vanzylspas gelees: “Marta, die pad het teen die berg afgegly!” Sowaar!

Afbeelding
Onbeholpe vat ons maar die pad ondertoe aan.

Die volgende agtien kilometer tot onder by die Jan Joubert Memoriam, neem ons toe amper twee dae om te voltooi as gevolg van die klippe en die onbegaanbaarheid van die roete. Dit kos ons partykeer amper die fietse daar afdra. Onnodig om te sê, tap dit al ons reserwes en en helaas ook ons water. Die toestand is ernstig en ons is besig om te dehidreer. As dit nie was vir ‘n groepie Himbas wat by die uitkyk was oor die Marienfluss nie, sou ons dit waarskynlik nie verder gemaak het nie. Ons kon ses liter water by hulle kry. Saam met die suiweringstablette het dit meer soos my swembad se water geproe as na die water wat mens oor die toonbank kry. Die Himbas was uitermate gefasineer met die Wegtydskrif wat ons saam geneem het en wat hulle raakgesien het toe ons dit naslaan. Die tydskrif is nou nog bo in Namibië by die koördinate S17 39.347 E12 41.724 ! In die tyd wat ons die voorreg gehad het om met die Himbas te komunikeer, al was dit in gebaretaal, was dit vir my voortdurend opvallend hoe hulle die eenvoud van die lewe bly handhaaf. Ons as Westerlinge het die bal verkeerd beet! Finansieële gewin, materialiestiese besittings en sosiale aanvaarbaarheid is alom belangrik. In die Himba se lewe is dinge baie meer basies. Een aand kry ons ‘n stam waar een van die seuns ‘n oogontsteking het. Met behulp van soutwater en antiseptiese salf is ons toe die volgende oggend die helde toe die oog amper gesond is. Die toeristiese gebruik om aan die kinders lekkers te gee is baie onvanpas en laat die kinders met swak gedrag en swak tande waaraan hulle niks kan doen nie. Gee die Himbas eerder meel, rys, suiker en tabak: alles tekens van respek wanneer jy deur hulle area trek. Glo my, water is ook vir hulle belangrik.

Afbeelding
Himbas by die uitkykpunt oor die Marienfluss

Die water wat ons toe daar gekry het, was toe die eerste vog in vier-en-twintig uur en dit terwyl die temperatuur die grootste deel van die dag by die ses-en-dertig grade C draai. Eet kan ‘n mens nie meer nie, jy kan nie eers sluk nie; daar is geen speeksel meer nie, jou tong sit aan jou verhemelte vas. ‘n Klippie onder die tong werk toe ook al lankal nie meer nie.

Afbeelding
Hier loop die bobbejane met kieries!

By Echo Peak se uitkykpunt kan die manne nie meer nie. Ons het toe net my fiets tot onder die GPS se drie “Very dangerous” punte gekry: nog een kilometer tot by die Memoriam. Ons besluit om die nag net daar deur te bring. Olaf en Steve sal maar bo by hulle fietse slaap. Dit neem vir Steve drie uur om die vyfhonderd meter terug boontoe toe te stap; hy is heeltemal uitgeput. Olaf praat moeilik en praat is gewoontlik sy sterkste punt. Die slaap kom maar moeilik, die dors is erg, die windolene in die botteljie lyk al hoe aantrekliker.
By eerste lig gaan ek die droë rivierbedding in en grawe by’n skadukol ‘n gat in die hoop dat daar water sou uitborrel, maar tevergeefs. Terug by die tent vind ek my vrou in gebed; dinge raak nou erg. Steve kan skaars loop en begin hallusineer. Olaf is stil, kyk net vir hom uit. Moed inpraat sukkel.

Afbeelding
Swaarkrybult, ons moed sit in ons skoene!

Met uiterste inspannig kry ons die fietse tot by die hoop klippe wat hulle die Memoriam noem. Orupembe is waar ons moet uitkom, daar is water! Niemand sê iets nie. Almal kry swaar. Van ons wil huil, maar kan nie meer nie, die liggaam het beter dinge om te doen met die laaste voggies.
Die vlakte waarna ons so uitgesien het, is toe maar net die volgende struikelblok op ons pad: sand, die “Biker” se vloekwoord! Om sand te ry met ‘n motorfiets moet jy spoed hê: jy moet bo-op hom ry! Niemand het meer die krag om die eerste paar meter regop te bly nie… ons val. Steve kan nie meer op nie en krul in die fetale posisie agter sy fiets. Ek kan nie my fiets opgelig kry nie. Die besluit word geneem dat hulp van buite dringend nodig is.
Dan is ‘n mens dankbaar vir die moderne tegnologie. Deel van ons voorbereiding was om ‘n satellietfoon saam te neem vir die wis en die onwis. Dankie tog! Ons het ook noodnommers gehad wat ons kon skakel afhangende van die tipe probleem. Ons skakel ons kinders in Wellington en hulle kry ons presiese GPS-koördinate met moeite uit my uit en skakel vir Wion van Rooyen in Walvisbaai wat op sy beurt met “Kamp Syncro” by Otjinhungwa kontak maak. Hulle is bereid om hierdie manne te help en water aan te dra.
Die afstand wat hulle moet ry, is om en by sestig kilometer. Dit neem drie uur. In dié tyd begin ons pienk varkies, sterre en ander snaakse goeters sien.
Op die horison verskyn ‘n stofwolk, seker maar nog ‘n fatamorgana! Die stofwolk kom al nader en uit die stof verskyn ‘n kudde beeste gevolg deur Himba-herders. Dis nie ‘n lugspieëling of hallusinasie nie, dis ons redding, die antwoord op ons gebede! Met heelwat gebare kry ons dit reg om water te vra; hulle dra nie saam nie, maar sal gaan haal. Die leë houers word oorhandig en die seuns hardloop verby Steve die berge in. Twee uur later is hulle terug. Nou kan ons uiteindelik drink! Ons kry elkeen drie liter water. Toe die water ons liggame binnevloei, gebeur daar snaakse goed: As ‘n mens so dehidreer kom die liggaam se noodtoestand in werking en sluit dit sekere funksies af, dit gaan so aan tot die dood intree! Hierdie nattigheid oor die lippe keer die proses om en maak dat ons die bossies as skuilplek moet opsoek, die gifstowwe moet uit! Nie almal haal dit betyds nie!

Afbeelding
Steve en Himbaherders naby die Epupawaterval!

Kamp Syncro se Land Cruiser, bestuur deur Abrie Stoltz, kom uiteindelik aan en ons is op die bakkie saam kamp toe. Ons los die fietse in die bos en lê maar laag vir die volgende paar dae. Voor ons gaan slaap, het die meeste van ons dit reggekry om amper tien liter vloeistof te drink en nie een het nog die buitekamertjie gaan opsoek nie.
Die gasvryheid van Koos Verwey en sy span help dat ons ons reserwes gou-gou weer opbou en die tog kan hervat. In die tyd wat ons by hulle deurgebring het, het ons die geleentheid gehad om die boonste deel van die Marienfluss te verken - iets wat ons nie sou gedoen gekry het nie as die Vanzylspas ons nie geflous sou het nie. Wys jou: daar is ‘n rede vir alles.

Afbeelding
Koos, Maria en die span wat hy gered het!

Terug by die fietse is ons daar weg om via Rooi- en Bloudrom by Orupembe uit te kom. Dit was vir my die mooiste deel van die roete: Elande, Springbokke en meer… oral! Dié skof was ‘n baie tegniese rit: die lang gras, sand en uitgespoelde paaie het ons op ons tone gehou, anders as op die pas kon jy hier maar aanhou ry. Volgende keer sal ek die Marienfluss deurkruis, belowe.

Afbeelding
‘n Welverdiende verkoeling by die cucca shop!

Tony, vir wie ons gelukkig in die vorige paar dae kon kontak, het vir ons ingelig dat daar geen petrol op Sesfontein is nie. Wat nou? Opuwa is al uitkoms maar volgens die fiets se rekenaar is dit te ver weg. Dertig kilometers voor die dorp gee die teller my ‘n waarskuwing: die petrol is op! Weet nie of ek asem gehaal het in die tyd nie, maar gaan staan het ons nie een nie. Opuwa was ‘n welkome oase! Onnodig om te sê dat Tony al lankal nie meer in Sesfontein vir ons gewag het nie. Die arme man het toe maar sy eie pad huis toe gesoek. Pap wiele het hom baie moeilikheid gegee en hy moes oor Windhoek om ‘n band te vervang.
Ons is oor Baobab Bend, Palmwag en Khorixas na Uis waar ons by die White Lady-kamp tuisgegaan het. Die swembad het ons goed gedoen: water in oorvloed, nie gedink ek sou dit kon sê na die laastste paar dae se belewenisse nie! Die Kunene was vol krokodille dus was daar van swem in die rivier geen sprake nie.
Van Henties, Swakopmund en Walvisbaai het ons niks gesien nie - alles toe onder die mis. Van so sewentig kilometer land in tot weer dieselfde afstand uit was alles natterig en kon ‘n mens nie eens honderd meter voor jou sien nie. Volgende keer miskien.

Afbeelding
Van die hitte op die pas na Walvisbaai se koue mis!

Ons reis deur die Kuiseb en Gaubpas na Solitair. Nog net twee dae en ons is weer by die huis. Die mooiste sonsondergang nog sien ons daardie aand en die alombekende appel strudel word geëet. As gevolg van die verlore tyd op die reis is dit nou al Vrydagaand en ons mik om Sondagaand onder in die Kaap by die huis te wees. Ons kry die nuus dat erge koue en reën die Kaap Hollands maak. Nie ‘n druppel reën gesien in twee weke nie; en nou dit!
Ons reis verder: Maltahohe, Helmeringhausen, Seeheim, Grunau na Vioolsdrif. Daar kom ons agter die Bulle het die Haaie gewen, die wedstryd is pas verby. Al wat nou nog oorbly, is om die volgende oggend die grens oor te steek en ons reënboognasie te gaan groet. Die boog is ons toe een voor en groet ons.

Afbeelding
Steve klaar met die formaliteite, reënboognasie in die agtergrond!

Hoe som ‘n mens nou so’n reis op, hoe kan ‘n mens nou al die gebeurtenisse saamvat? Miskien toepaslik was die gesegde wat ek op ons beskermengel, Abrie Stoltz se Land Rover deur geskryf gesien het: “’n Reis is nie die tyd wat jy spandeer om van die verlede na die toekoms te beweeg nie, maar meer die versameling ervaringe wat jy opdoen terwyl jy beweeg waar die lewe jou ook mag neem.
Laatst gewijzigd door Die Malletjie op 09 aug 2007, 14:30, 2 keer totaal gewijzigd.
Do it today, maybe there is no tomorrow!
Afbeelding
Rony Desodt
Gesloten